Steeleik | |
---|---|
Eikeblare en akkers – die lang akkerstele is duidelik sigbaar | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Plantae |
Klade: | Tracheofiete |
Klade: | Angiospermae |
Klade: | Eudicots |
Klade: | Rosids |
Orde: | Fagales |
Familie: | Fagaceae |
Genus: | Quercus |
Subgenus: | Quercus subg. Quercus |
Seksie: | Quercus sect. Quercus |
Spesie: | Q. robur
|
Binomiale naam | |
Quercus robur | |
Natuurlike verspreiding | |
Sinonieme[2] | |
Lys
|
Die steeleik (Quercus robur), so genoem weens die lang steel waaraan die akkers gedra word, is 'n groot tot massiewe boom wat in woudrande, langs paaie en rivieroewers in grasveld en fynbos groei. Dit is inheems aan Engeland, Europa en Wes-Asië, en is lokaal 'n indringerplant. Etlike eksemplare van historiese belang geniet amptelike beskerming in Suid-Afrika. Dit staan ook algemeen bekend as die akkerboom, en benewens as Kaapse, Europese of Engelse eik.
Die boom kan tot 30 m hoog word en is bladwisselend met 'n breë, geronde kroon. Die bas is donkerbruin en grof. Die enkelvoudige blare is ovaal, groen met geskulpte lobbe. Die steeleik se heldergroen jong blare verdonker namate die seisoen vorder. Die blommetjies is gelerig in neerhangende bloeiwyses. Die vrug is die kenmerkende akker, wat in 'n doppie gedra word. Die boom lewer aantreklike geelbruin hout wat baie gewild is vir onder meer die vervaardiging van meubels en wynvate.
Volgens oorlewering is die eerste eikebome in Suid-Afrika deur die volksplanter Jan van Riebeeck waarskynlik in 1656 geplant. Later het die goewerneur Simon van der Stel en sy seun Willem Adriaan in die jong Kaapkolonie se timmerhoutbehoeftes voorsien deur tussen 1679 en 1706 duisende groot eike in Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein en die Paarl aan te plant. Die Vergelegen-eik word as die oudste (oor drie eeue) en grootste steeleik in Suid-Afrika beskou.[3] Die naasoudste oorlewende eikebome in die land is omstreeks 1797 in Stellenbosch, ewe goed bekend as die Eikestad, geplant. Hulle is meer as 220 jaar oud en is tot nasionale gedenkwaardighede verklaar.[4]