In geologie is 'n superkontinent die versameling van al die Aarde se kontinentblokke of kratons om 'n enkele, groot landmassa te skep.[1][2] In die lang geskiedenis van die plaattektoniek het dit verskeie kere gebeur, en dan het hulle weer opgebreek.
Sommige wetenskaplikes gebruik die definisie "groepering van voorheen verspreide kontinente", wat ruimte laat vir vertolking en makliker is om op Prekambriese tye toe te pas.[3] Minstens sowat 75% van die kontinentale kors moet egter aanmekaar vas wees om dit te onderskei van 'n gewone kontinent.[4]
Superkontinente het al verskeie kere in die geologiese verlede bymekaargekom en verbrokkel (sien tabel). Dit word die Wilsonsiklus genoem. Volgens moderne definisies bestaan geen superkontinent vandag nie;[1] die naaste daaraan is die huidige Afrika-Eurasiese landmassa, wat sowat 57% van die Aarde se oppervlak beslaan. Pangea is die naam van die kontinentale landmassa wat die laaste keer in een groot stuk was. Die posisies van die kontinente is akkuraat vasgestel tot in die vroeë Jura, kort voor die opbreking van Pangea.[5] Die vroeëre Gondwana word nie volgens die eerste definisie as 'n superkontinent beskou nie omdat die landmassas Baltica, Laurentia en Siberië in dié tyd apart daarvan was.[6]
Die volgende tabel gee gerekonstrueerde antieke superkontinente weer, volgens Bradley se losser definisie van 2011,[6] met 'n benaderde tydskaal van miljoene jare gelede.
Superkontinent | Ouderdom | Periode/Era | Kommentaar |
---|---|---|---|
Vaalbara | 3 636 - 2 803 | Eoarcheïkum-Mesoarcheïkum | Ook beskryf as 'n superkraton of net 'n kontinent[7] |
Ur | 2 803 - 2 408 | Mesoarcheïkum-Siderium | Beskryf as beide 'n kontinent[2] en 'n superkontinent[8] |
Kenorland | 2 720 - 2 114 | Neoarcheïkum-Riasium | Alternatiewelik kon die kontinente in twee groepe versamel het: die Superior- en Sclavia-kraton[9][3] |
Arktika | 2 114 - 1 995 | Riasium-Orosirium | Nie gewoonlik as 'n superkontinent beskou nie, afhangend van definisie[2] |
Atlantika | 1 991 - 1 124 | Orosirium-Stenium | Nie gewoonlik as 'n superkontinent beskou nie, afhangend van definisie[2] |
Columbia (Nuna) | 1 820 - 1 350 | Orosirium-Ektasium | [9] |
Rodinië | 1 130 - 750 | Stenium-Tonium | [9] |
Pannotië | 633 - 573 | Ediacarium | [9] |
Gondwana | 550 - 175 | Ediacarium-Jura | Van die Karboon af, was deel van Pangea,[3] nie altyd beskou as 'n superkontinent nie[10] |
Pangea | 336 - 175 | Karboon-Jura |
Daar is twee teorieë oor die evolusie van superkontinente. Volgens die eerste model het minstens twee aparte superkontinente bestaan: Vaalbara (van sowat 3 636 miljoen tot 2 803 miljoen jaar gelede) en Kenorland (van sowat 2 720 miljoen tot 2 450 miljoen jaar gelede). Kenorland het uit Superia en Sclavia bestaan. Dié dele het 2 480 miljoen tot 2 312 miljoen jaar gelede afgebreek en dele van hulle het later gebots en Nuna (Noord-Europa Noord-Amerika) 1 820 miljoen jaar gelede gevorm. Nuna het aanhou ontwikkel tydens die Mesoproterosoïkum, en sowat 1 000 miljoen jaar gelede het Nuna met ander landmassas verenig en Rodinië gevorm.[3] Tussen sowat 825 miljoen en 750 miljoen jaar gelede het Rodinië verbrokkel.[11] Voordat dit heeltemal opgebreek het, het dele van Rodinië reeds byeengekom en Gondwana (ook bekend as as Gondwanaland) gevorm teen sowat 608 miljoen jaar gelede. Pangea het teen sowat 336 miljoen jaar gelede gevorm deur middel van bostings deur Gondwana, Laurasia (Laurentia en Baltica) en Siberië.
Die tweede model (Kenorland-Arktika) is geskoei op beide paleomagnetiese en geologiese bewyse dat die kontinentale kors van ~2,72 miljard jaar gelede uit 'n enkele superkontinent bestaan het, totdat dit ná ~0,573 miljard jaar, tydens die Ediacarium, opgebreek het.[12] Hoewel dit met die eerste model bots, sluit die eerste fase (Protopangea) Vaalbara en Kenorland van die eerste model in.
Pangea het 215 miljoen jaar gelede begin verbrokkel en is vandag steeds besig. Omdat Pangea die Aarde se jongste superkontinent is, is dit die bekendste en word dit die beste verstaan. Om Pangea weer aanmekaar te las is so maklik as om die kontinente as stukke van 'n legkaart te beskou wat inmekaarpas.[3]