Tantra (Sanskrit: तन्त्र, letterlik "weef") dui op die esoteriese tradisies van Hindoeïsme en Boeddhisme wat van die middel van die 1ste millennium n.C. af in Indië ontwikkel het. Die term "tantra" beteken in die breër Indiese tradisies ook enige "teks, teorie, stelsel, metode, instrument, tegniek of praktyk".[1][2] ’n Sleuteleienskap van dié tradisies is die gebruik van mantras, en daarom word algemeen na hulle verwys as Mantramarga ("Weg van Mantra") in Hindoeïsme of Mantrayana ("Mantravoertuig") en Guhyamantra ("Geheime Mantra") in Boeddhisme.[3]
Vanaf die vroeë eeue n.C. het nuwe tantras te voorskyn gekom wat om Vishnu, Shiva of Shakti gesentreer was.[4] Daar is tantriese tradisies in al die belangrike vorme van moderne Hindoeïsme, soos die Shaiva Siddhanta en Shaktisme.
In Boeddhisme is die Vajrayana-tradisies bekend vir tantriese idees en praktyke wat op Indiese Boeddhistiese tantras geskoei is.[5] Dit sluit in Indo-Tibettaanse Boeddhisme, Chinese Esoteriese Boeddhisme, ens. Tantriese Hindoe- en Boeddhistiese tradisies het ook ander Oostelike godsdienstradisies beïnvloed, soos Djainisme, die Tibettaanse Bön-tradisie, Taoïsme en die Japannese Sjintoïsme.[6]
Hindoetempels voldoen gewoonlik aan die ikonografie van tantra.[7] Hindoegeskrifte wat dié onderwerpe beskryf, word Tantras, Agamas of Samhitas genoem. In Boeddhisme het tantra die kuns en ikonografie van Tibettaanse en Oos-Asiatiese Boeddhisme beïnvloed, asook die historiese grottempels van Indië en die kuns van Suidoos-Asië.[8][9]
Tantra beteken letterlik "weef".[10][11] Volgens Padoux beteken die werkwoordwortel tan "om uit te brei", "om te versprei", "om te weef", "om ten toon te stel" en "om saam te stel". In ’n breër sin kan dit dus ook beteken "stelsel", "leerstelling" of "werk".[12]
Die verbintenis van die woord tantra om esoteriese praktyke of godsdienstige ritualisme te beteken is ’n Europese skepping in die koloniale tydperk. Die term is gebaseer op die metafoor van weefwerk, sê Ron Barrett, want die Sanskrit-wortel tan beteken die skering en inslag van drade aan ’n weefraam.[1] Dit impliseer die "verwewing van tradisies en leringe as weefdrade" in ’n teks, tegniek of praktyk.[1][11]