"Groot-Tibet" soos deur Tibettaanse ballingskapgroepe opgeëis | |||||||||
Tibettaanse outonome streke, soos deur China beweer | |||||||||
Outonome Gewes Tibet, binne China | |||||||||
Chinees-beheerde, deur Indië as deel van Aksai Chin geëis | |||||||||
Indies-beheerde, gedeeltelik deur China as Suid-Tibet geëis | |||||||||
Ander gebiede van die historiese Tibettaanse kultuurgebied |
Tibet | ||
Die oranjelyn is die grens van die historiese Tibet | ||
Name (taalvariante) | ||
Vereenvoudigde Chinees | 西藏 | |
Pinyin | Xīzàng | |
Wade-Giles | Hsi1-tsang4 | |
Kantonees | Sāi-johng | |
Jyutping | Sai1-zong6 | |
Taiwan-Hakka | Sî-tshông | |
Ander name | བོད་ (Tibettaans) |
Tibet (Tibettaans: བོད་, Bod; Chinees: 西藏, Pinyin: Xīzàng) is 'n geografiese gebied op die Hoogland van Tibet. Dit word hoofsaaklik deur Tibettane, een van die 56 amptelik erkende etniese groepe ("nasionaliteite") van die Volksrepubliek China, bewoon en beslaan 'n oppervlakte van 1,2 miljoen km². Die Tibettane is 'n volk met 'n eie taal, Tibettaans, en 'n eie Tibettaanse kultuur. Tibettane is veral aanhangers van twee godsdienste: Bön en Tibettaanse Boeddhisme. Van die ander etniese groepe sluit in Sjerpa, Han-Chinese en Hui-Chinese.
Tussen 1950 en 1951 het die Chinese die land, wat toe teokraties bestuur was met ’n priestergod aan die hoof van die regering, geannekseer. Voorheen het Tibet in byna algehele afsondering verkeer vanweë die ontoeganklikheid van die gebied. Die Lamaïsme ('n vorm van Boeddhisme in Tibet) het die Tibettane se hele lewe oorheers.
Ná die Xinhairewolusie en die stigting van die Republiek China het Tibet in 1912 sy onafhanklikheid van China verklaar. Die gebied van die de facto onafhanklike Tibet was in geografiese opsig amper identies aan die gebied van die huidige Outonome Gewes Tibet. Die gebied het tot die Inval van Tibet van 1950–51 deur die Volksbevrydingsleër de facto onafhanklik gebly, waarna dit opnuut by China ingelyf is. Die Chinese het probeer om die Tibettaanse kultuur heeltemal te verdring en die gebied in alle opsigte 'n Chinese provinsie te maak. Dit was, ondanks die omverwerping van byna al die tradisionele organisasies, die propaganda teen die Lamaïsme, die moderne onderwys en die moderne ekonomiese ontwikkeling op kulturele gebied onsuksesvol. Die spanning wat nog altyd tussen die twee bevolkingsgroepe bestaan, kan daarheen teruggevoer word.
Tibet is in politieke en bestuurlike opsig 'n outonome gewes van die Volksrepubliek China. Die Tibettaanse kultuurgebied omvat ook dele van die provinsies Sichuan en Qinghai. Daartoe behoort ook Ladakh en Sikkim in Indië, Bhoetan en dele van Nepal.
Die Outonome Gewes Tibet grens in die suide en weste aan Nepal, Bhoetan, Mianmar en die Indiese deelstate Jammu en Kasjmir, Himachal Pradesh, Sikkim en Arunachal Pradesh. Van noord na die ooste grens dit aan die provinsies Xinjiang ((Oos-)Turkestan), Gansu, Sichuan en Yunnan.
Tibet, ook bekend as die "land van sneeu" of die "dak van die wêreld", bestaan uit die hoogste plato ter wêreld, naamlik die Hoogland van Tibet (gemiddelde hoogte 4 500 m). Die plato word omring deur baie hoe bergkettings: in die noorde die Kwenloen-gebergte en in die weste en suide die Himalaja (met die wêreld se hoogste piek, Berg Everest, 8 848 m), op die grens met Nepal.
Die noordelike deel van die Hoogland word ingeneem deur die Tsjang Tjang-gebied, 'n besonder onherbergsame streek, waar die brak meertjies 'n mens herinner aan die Thetysee, wat miljoene jare gelede hier geleë was. Die Transhimalaja skei hierdie gebied van die oos na wes lopende dal van die Brahmaputra in die suide. Behalwe hierdie stroom ontspring baie belangrike Asiatiese riviere, soos Geelrivier, Indus, Ganges, Sutlej, Salween en Mekong en Yangtze, in Tibet.
Laasgenoemde vorm die belangrikste riviere in die Chamdogebied, oos van die Tsjang Tjang, met noord na suid gerigte bergkettings. Vanweë sy hoë ligging aan die windkant van die Himalaja het Tibet 'n droë hooggebergteklimaat met baie koue winters en kort, warm somers, met die meeste reën in die suide. Die temperature op groot hoogte is gemiddeld onder 0˚C, terwyl dit in die valleie en in die suidooste meer gematig is, sodat meer veelsoortige flora moontlik is.
Tibet word in die suide en weste deur die Himalaja met hoë pieke soos Berg Everest begrens, die Karakoram in die noordweste en die Kunlun in die noorde. Ander bergpieke op Tibet se grense sluit in Cho Oyu, Makalu en Shishapangma, almal met Nepal gedeel. Die hoofstad en grootste stad is Lhasa, net noord van die Brahmaputra geleë en bekend vir die Potala-paleis, voormalige setel van die Dalai Lamas.
Die Chinese oorname van Tibet in 1950/51 het groot weerstand by die plaaslike bevolking uitgelok (opstande in 1956 en 1959 is bloedig deur die Chinese onderdruk[1]) en pogings om die land by die sosio-ekonomiese struktuur van die Volksrepubliek China in te skakel, was tot dusver nie baie suksesvol nie. Tibet se regering in ballingskap is tans in die Indiese stad Dharamsala gesetel.[2]
As deel van die Chinese hervormingsprogram is die grond herverdeel onder kommunes van boere, paaie en waterkragsentrales is gebou en daar is 'n begin gemaak met die ontginning van die minerale rykdomme, onder meer ruolie, goud en steenkool.
Die landbou is gemoderniseer en produksiemetodes verbeter, terwyl verpligte laer onderwys vir die hele bevolking ingestel is. Hoewel baie van die Tibettane materieel by die moderniserings baat vind, is hulle tog daarteen gekant omdat dit teen hul diepgewortelde godsdiensgevoelens indruis.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Tibet. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |