Tokio 東京都 Tōkyō-to | |
---|---|
Stad | |
Ligging van die prefektuur Tokio in Japan | |
Ligging van die prefektuur Tokio in Japan | |
Koördinate: 35°41′N 139°41′O / 35.683°N 139.683°O | |
Land | Japan |
Streek | Kantō |
Eiland | Honsjoe |
Prefektuur | Tokio |
Regering | |
• Goewerneur | Yuriko Koike |
Oppervlak | |
• Stad | 2 187,66 km2 (844,66 vk. myl) |
• Metro | 13 572 km2 (5 240 vk. myl) |
Hoogte | 40 m (130 ft) |
Bevolking | |
• Stad | 13 617 445 |
• Digtheid | 6 224,66/km2 (16 121,8/vk. myl) |
• Stedelik | 8 967 665 |
• Metro | 37 800 000 |
• Metrodigtheid | 2 662/km2 (6 890/vk. myl) |
Tydsone | UTC+9 (JST) |
Webwerf | metro.tokyo.jp |
Tokio (Japannees: 東京都, Tōkyō, [toːkʲoː], , amptelik die Tokio-metropool (東京都 Tōkyō-to?), is die hoofstad en grootste stad van Japan. Dit is ook een van die 47 prefekture van Japan.[1] Geleë aan die hoof van Tokiobaai, vorm die prefektuur deel van die Kantō-streek aan die sentrale Stille Oseaan-kus van Japan se hoofeiland Honshu. Tokio is die politieke en ekonomiese middelpunt van die land, sowel as die setel van die Japannese regering en die tuiste van Japan se keiserlike familie. Die naam Tokio beteken "oostelike hoofstad" in Japannees. Die Tokio-metropool is met 'n bevolking van sowat 38 miljoen die mees bevolkte metropolitaanse gebied in die wêreld. Teen 2022 het die prefektuur 'n geskatte bevolking van 13,99 miljoen.[2]
Tokio het as gasheerstad van die Olimpiese Somerspele in 1964 opgetree en ook van die Olimpiese Somerspele 2020, wat weens die wêreldwye Covid-19-pandemie heelaas eers in 2021 gehou is.
Na die oorlog het Tokio die basis geword vanwaar die Verenigde State onder Douglas MacArthur Japan ses jaar lank administreer het. Tokio het gesukkel om te herbou, aangesien besettingsowerhede ingetree het en drasties besnoei het op Japannese regering se herbouprogramme, en eerder daarop gefokus om bloot paaie en vervoer te verbeter. Tokio het eers in die 1950's vinnige ekonomiese groei ervaar.[3]
Nadat die besetting van Japan in 1952 geëindig het, is Tokio heeltemal herbou en is dit tydens die Olimpiese Somerspele van 1964 aan die wêreld ten toon gestel. Die 1970's en die 1980's het nuwe hoë ontwikkelings gebring. In 1978 is Sunshine 60 – die hoogste wolkekrabber in Asië tot 1985, en in Japan tot 1991[4] – en Narita Internasionale Lughawe gebou, en die bevolking het tot ongeveer 11 miljoen in die metropolitaanse gebied toegeneem.[5] Die Edo-Tokio Opelug Argitektoniese Museum vertoon historiese Japannese geboue wat in die stedelike landskap van vooroorlogse Tokio bestaan het.
Tokio se moltrein- en pendelspoornetwerk het een van die besigste in die wêreld geword[6] namate meer en meer mense na die gebied getrek het. In die 1980's het eiendomspryse die hoogte ingeskiet tydens 'n eiendoms- en skuldborrel. Die borrel het in die vroeë 1990's gebars, en baie maatskappye, banke en individue is betrap met verbandgesteunde skuld terwyl vaste eiendom in waarde gekrimp het. 'n Groot resessie het gevolg, wat die 1990's Japan se "Verlore Dekade" gemaak het,[7] waarvan dit stadig herstel het.
Tokio beleef steeds nuwe stedelike ontwikkelings op groot dele minder winsgewende grond. Onlangse projekte sluit in Ebisu Garden Place, Tennōzu-eiland, Shiodome, Roppongi Hills, Shinagawa (nou ook 'n Shinkansen-stasie), en die Marunouchi-kant van Tokyo-stasie. Geboue van betekenis is gesloop vir meer opgedateerde winkelfasiliteite soos Omotesando Hills.[8]
Die 2011 Tōhoku aardbewing en tsoenami wat baie van die noordoostelike kus van Honsjoe verwoes het, is in Tokio gevoel. As gevolg van Tokio se aardbewing-bestande infrastruktuur, was skade in Tokio egter baie gering in vergelyking met gebiede wat direk deur die tsoenami getref is,[9] alhoewel meeste aktiwiteite in die stad tot stilstand gedwing is.[10]
Die vastelandgedeelte van Tokio lê noordwes van Tokiobaai en meet ongeveer 90 km oos na wes en 25 km noord na suid. Die gemiddelde hoogte in Tokio is 40 meter.[11] Dit grens aan Chiba-prefektuur in die ooste, Yamanashi in die weste, Kanagawa in die suide, en Saitama in die noorde. Vasteland Tokio is verder onderverdeel in spesiale wyke (wat die oostelike helfte beslaan) en die Tama-gebied (多摩地域) wat weswaarts strek. Tokio lê op 'n breedtegraad van 35.65 noord, wat dit meer suid maak as Rome (41.90), Madrid (40.41) en New York (40.71).[12]
Volgens Japannese wetgewing word die prefektuur van Tokio as 'n metropool aangewys.[13]
Tokio Prefektuur is die digs- en mees bevolkte prefektuur, met 6 100 inwoners per vierkante kilometer; volgens geografiese gebied is dit die derde kleinste, bo slegs Osaka en Kagawa. Die administratiewe struktuur daarvan is soortgelyk aan dié van Japan se ander prefekture. Die 23 spesiale wyke (特別区, tokubetsu-ku), wat tot 1943 die stad Tokio gevorm het, is selfregerende munisipaliteite, wat elk 'n burgemeester, 'n raad en stadstatus het.
Benewens hierdie 23 spesiale wyke, bevat Tokio ook nog 26 stede, vyf dorpe, en agt klein nedersettings (villages), wat elk 'n plaaslike regering het. Die Tokyo Metropolitaanse Regering administreer die hele metropool, insluitend die 23 spesiale wyke en die stede en dorpe wat die prefektuur uitmaak. Dit word gelei deur 'n openbaar-verkose goewerneur en metropolitaanse vergadering. Die hoofkwartier is in Shinjuku-wyk.