Vega | ||||
Die ligging van Vega in die sterrebeeld Lier. | ||||
Sterrebeeld | Lier | |||
Bayer-naam | α Lyrae | |||
Spektraaltipe | A0V | |||
Soort | Hoofreeksster | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 18h 36m 56,33635s | |||
Deklinasie | +38° 47′ 01,2802″ | |||
Skynmagnitude (m) | 0,03 | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 2,135 | |||
Radius (R☉) | 2,362 | |||
Ligsterkte (L☉) | 0,58 | |||
Ouderdom (jaar) | 455 miljoen | |||
Temperatuur (K) | 9 602 | |||
Afstand (ligjaar) | 25,04 | |||
Ander name | ||||
Lucida Lyrae,[1] 3 Lyr, GJ 721, HR 7001, BD +38°3238, HD 172167, GCTP 4293.00, LTT 15486, SAO 67174, HIP 91262 | ||||
|
Vega is die helderste ster in die sterrebeeld Lier (Lyra) en die vyfde helderste ster in die lugruim. Dit is redelik naby: net 25 ligjare van die Aarde af. Sy Bayer-naam is Alpha Lyrae, afgekort as α Lyr.
Die ster is al deeglik deur sterrekundiges bestudeer en dit het daartoe gelei dat dit al "die belangrikste ster naas die Son" genoem is.[2] Dit was omstreeks 12000 v.C. die noordelike poolster en sal dit omstreeks 13727 n.C. weer wees, wanneer sy deklinasie +86°14' sal wees.[3] Vega was die eerste ster naas die Son wat gefotografeer is en die eerste waarvan die spektrum gemeet is. Dit was ook een van die eerste sterre waarvan die afstand gemeet is.
Vega is net sowat ’n tiende so oud soos die Son, maar omdat dit 2,1 keer so groot is, is sy verwagte leeftyd ook net ’n tiende van die Son s’n. Albei sterre is tans naby die middel van hul leeftyd. Vega het ongewoon min elemente met ’n hoër atoomgetal as dié van helium.[4] Daar word vermoed dit is ’n veranderlike ster waarvan die magnitude effens kan wissel.[5] Dit draai vinnig teen ’n spoed van 274 km/s by sy ewenaar. Dit veroorsaak dat die ewenaar uitbult en daarom wissel die temperatuur van plek tot plek, met ’n maksimum by die pole. Van die Aarde af sien ’n mens Vega uit die rigting van een van sy pole.[6]
Gebaseer op die groot mate van infrarooilig wat uitgestraal word, lyk dit of daar ’n stofskyf om die ster is. Dit is waarskynlik die gevolg van botsings tussen voorwerpe in ’n gordel om Vega wat ooreenstem met die Kuiper-gordel in die Sonnestelsel.[7] Onreëlmatighede in die skyf dui ook op die moontlike teenwoordigheid van minstens een eksoplaneet, waarskynlik so groot soos Jupiter,[8] wat om Vega wentel.[9]
Die ster se Bayer-naam is "Alpha Lyrae". Die eienaam, "Vega" (vroeër "Wega"),[10] kom van die Arabiese wāqi‘, "vallende" of "landende" via die frase an-nasr al-wāqi‘, "die vallende arend".[11] In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Vega" vir die ster goedgekeur.[12]