Encyclosphere.org ENCYCLOREADER
  supported by EncyclosphereKSF

Waterhert

From Wikipedia (Af) - Reading time: 4 min

Waterhert
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Subfamilie:
Hydropotinae
Genus:
Hydropotes

(Swinhoe, 1870)
Spesie:
H. inermis
Binomiale naam
Hydropotes inermis
(Swinhoe, 1870)

Die waterhert (Hydropotes inermis) is ’n klein hert wat oppervlakkig beskou meer soos ’n muskushert lyk as soos ’n ware hert. Dit is inheems aan China en Korea en daar is twee subspesies: die Chinese waterhert (Hydropotes inermis inermis) en die Koreaanse waterhert (Hydropotes inermis argyropus). Ondanks sy gebrek aan gewei (horings) en sekere ander anatomiese verskille – onder meer sy prominente slagtande – word dit as ’n takbok geklassifiseer. Sy unieke karaktertrekke het meegebring dat dit al in sy eie genus (Hydropotes) en selfs in sy eie subfamilie (Hydropotinae) geklassifiseer is.[2] ’n Studie van sy DNS plaas dit egter naby Capreolus in die "ouwêreldse" subfamilie Capreolinae.[3] Sy lang slagtande het hom onder andere die naam "vampierhert" besorg.

Habitat

[wysig | wysig bron]
Die slagtande van ’n waterhert.

Waterherte is inheems aan die laer gebiede van die Yangtzerivier, die kus van die Jiangsuprovinsie en die eilande van Zhejiang van Oossentrale China, en in Korea. Hulle kom langs riviere voor waar hoë riete hulle beskerm. Hulle kom ook in berge, moerasse, graslande en selfs oop landerye voor. Hulle kan goed swem en kan na verafgeleë riviereilande swem. Die Chinese waterhert kom nou ook in Brittanje, Frankryk en Argentinië voor, en selfs in die VSA.[4][5]

Beskrywing

[wysig | wysig bron]

Die waterhert het lang bene en ’n lang, grasieuse nek. Die kragtige agterbene is langer as die voorstes sodat die heupe hoër is as die skouers. Hulle gee haasagtige spronge. Die stert is kort en amper onsigbaar, behalwe wanneer ramme dit in die paarseisoen orent hou. Die ore is kort en rond, en nie een van die geslagte het gewei nie.

Die pels is ’n goudbruin kleur en kan ook swart hare bevat, terwyl die onderkant van die lyf wit is. In die herfs word die pels geleidelik vervang deur ’n dikker, growwer winterlaag wat wissel van ligbruin tot grysbruin.

Die waterhert het lang slagtande wat vanaf die boonste kaak uitsteek. Veral ramme se slagtande is lank en kan wissel van 5,5 tot 8 cm. As die hert eet, kan hy die tande uit die pad hou omdat hy dit nie vir eetdoeleindes gebruik nie, maar as hy aggressief raak, stoot hy die tande uit en trek sy onderlip in om die tande verder te ontbloot. Dit is ’n gedugte wapen teen ander ramme en het hom die naam "vampierhert" besorg.[6]

Buite die paarseisoen is die ramme alleenlopend en hoogs territoriaal. Elke ram merk sy gebied met urine en ontlasting. Hy sal ook sy reukkliere aan voorwerpe vryf. Ooie hou buite die paarseisoen in onverwante klein groepe en sal uiteenspat as gevaar dreig.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Harris, R.B. & Duckworth, J.W. (2008). Hydropotes inermis. 2008 IUBN Rooi Lys van bedreigde spesies. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur 2008. Verkry op 8 April 2009.
  2. Grubb, P. (2005). "Order Artiodactyla". In Wilson, D. E.; Reeder, D. M. Mammal Species of the World (3de uitg.). Johns Hopkins University Press. p. 671. ISBN 978-0-8018-8221-0.OCLC 62265494
  3. Randi, E.; Mucci, N.; Pierpaoli, M.; Douzery, E. (1998). "New phylogenetic perspectives on the Cervidae (Artiodactyla) are provided by the mitochondrial cytochrome b gene". Proceedings of the Royal Society B: Biological Sciences 265 (1398): 793. doi:10.1098/rspb.1998.0362
  4. http://prezi.com/w7oqdthnkkll/hydropotes-inermis/
  5. http://www.hows.org.uk/inter/birds/exotics/emam.htm
  6. Paine DE (28 April 2012). "World's deadliest golf course boasts land mines, vampire deer". Dateline Zero (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Julie 2012. Besoek op 27 Mei 2012.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Licensed under CC BY-SA 3.0 | Source: https://af.wikipedia.org/wiki/Waterhert
4 views | Status: cached on November 19 2024 15:09:10
↧ Download this article as ZWI file
Encyclosphere.org EncycloReader is supported by the EncyclosphereKSF