Die Whigs was eers 'n politieke faksie en daarna 'n politieke party in die parlemente van Engeland, Skotland, Groot-Brittanje, Ierland en die Verenigde Koninkryk. Tussen die 1680's en 1850's het die Whigs die mag betwis met hul mededingers, die Tories. Die Whigs het in die 1850's met die nuwe Liberale Party saamgesmelt, hoewel sommige aristokrate van die Whigs die Liberale Party in 1885 verlaat het om die Liberale Unioniste Party te vorm, wat in 1912 saamgesmelt het tot mededinger van die Liberales, die hedendaagse Konserwatiewe Party.
Die Whigs het 'n sentrale rol gespeel in die Glorieryke Rewolusie van 1688, en was die vyande van die Stuartkonings, wat Rooms-Katoliek was. Die Whigs het volle beheer van die regering oorgeneem in 1715. Hulle het dit behou totdat koning George III, wat in 1760 op die troon kom, Tories weer toegelaat het.
Toe hulle aan die bewind was, het die Whigs die Tories gesuiwer van alle belangrike posisies in die regering, die weermag, die Kerk van Engeland, die regsberoep en plaaslike amptenaarsposte.
Hulle bekendste leier was Robert Walpole, wat van 1721 tot 1742 beheer oor die regering gehad het.