Wind is die horisontale beweging van lug. Dit word veroorsaak deur verskille in lugdruk. Lug beweeg altyd van gebiede met 'n hoër lugdruk na gebiede met 'n laer lugdruk. Hierdie vermoë van die lugmolekule in die atmosfeer om rond te beweeg, is baie belangrik omdat dit weersveranderinge tot gevolg het.
Wind word in terme van rigting en spoed beskryf. Die windrigting word altyd aangegee as de rigting waarvandaan die wind waai. 'n Oostelike wind waai dus van die ooste en beweeg na die weste, terwyl 'n noordelike wind van die noorde suidwaarts beweeg. Windrigting word by lughawens deur 'n windkous aangedui, maar elders (bv. op kerktorings) deur 'n weerhaan. Dit word as punte van die kompas of as grade kloksgewys van die ware of geografiese noorde aangetoon.
Windspoed word met 'n windmeter gemeet. Die windmeter bestaan uit ten minste drie tregtervormige bekers of keëls wat aan 'n vertikale spoel vas is. Die wind oefen meer druk uit op die hol kante as op die bolvormige (ronde) kante, wat die bekers laat draai. Die aantal omwentelings wat per tydseenheid gemaak word, is 'n maatstaf van die windspoed. Die spoed van wind word in meter per sekonde (m·s-1) of as knope aangegee.