Wollongong, met 'n bevolking van 200 000, is die derde grootste stad in die Illawarra-streek van Nieu-Suid-Wallis suid van Sydney in Australië.[1] Dit is die enigste plek in Australië met wat twee vuurtorings binne loopafstand van mekaar af. Die Wollongong Head-vuurtoring is tans in werking terwyl die Wollongong Breakwater-vuurtoring nie meer in gebruik is nie, maar dit is sedert sy restourasie in 2002 'n erfenisbaken van die stad.
Hierdie vuurtoring is in 1936 deur die Australiese departement van skeepsvervoer gebou om skepe veilig in die Port Kembla-hawe in te lei. Dit was die eerste vuurtoring in Australië met ten volle outomatiese ligte.[2] Dit is gebou met gewapende beton om die sterk winde te weerstaan en is 'n gewilde bymekaarkom- en piekniekplek vir die plaaslike inwoners vanweë die goeie uitsig van daar af.
Die Wollongong Head-vuurtoring is tans die enigste werkende vuurtoring nadat die ou Breakwater-vuurtoring in 1974 ophou werk het.
Die Wollongong Breakwater-vuurtorig is in 1871 gebou ná vertoë aan die Wollongong-stadsraad in 1866 om seevaarders te help om die hawe veilig binne te gaan toe die steenkoolbedryf in die Illawarra-streek nog in sy kinderskoene gestaan het. Die vuurtoring is geleë in die Belmore-kom aan die suidelike breekwater, binne loopafstand van die nuwer vuurtoring.[3]
Die toring is deur Edward Moriarty, die destydse hoofingenieur van die departement van hawens en riviere, ontwerp. Dit is uit smeeysterplate op 'n betonbasis gebou om stormsterkwinde te kan weerstaan.