Wors is 'n silindriese vleisproduk wat van maalvleis gemaak word, gewoonlik van vark-, bees-, of kalfsvleis, saam met sout, speserye en ander geurmiddels, en broodkrummels, met 'n vel rondom dit. Wors word gewoonlik gevorm in 'n omhulsel tradisioneel gemaak van die dunderm, maar soms van sintetiese materiaal. Wors wat rou verkoop word, kan op baie maniere gaargemaak word, insluitend panbraai, oondrooster, rook en vuurbraai. Sommige worsies word reeds tydens verwerking gaargemaak en die omhulsel kan dan verwyder word.
Worsmaak is 'n tradisionele voedselbewaringstegniek. Wors kan bewaar word deur dit te kuur, te droog, rook, of bevries. Sommige gekuurde of gerookte worsies kan gestoor word sonder verkoeling. Die meeste vars wors moet egter verkoel of gevries word totdat hulle gaargemaak word.
Daar is 'n groot verskeidenheid van nasionale en plaaslike variëteite van wors, wat verskil van hul aroma of speserybestanddele (knoffel, peper, wyn, ens.), die vleis wat gebruik word, en hul voorbereidingswyse.
Worsmaak is 'n uitvloeisel van doeltreffende slagtery. Worsmakers het verskillende weefsels en stukkies afvalvleis, bloed, en vet gesout om dit te help bewaar. Dan het hulle dit in 'n buisderm, gemaak van die skoon ingewande van diere, gestop ter vervaardiging van die kenmerkende silindriese vorm. Dus is wors en salami van die oudste bereide voedsels, hetsy gekook en dadelik geëet, of gedroog tot wisselende grade.
Tradisioneel is worsderms gemaak van die skoongemaakte ingewande, of mae in die geval van haggis en ander tradisionele poedings. Deesdae egter, word natuurlike derm dikwels vervang deur kollageen, sellulose, of selfs plastiekderms, veral in die geval van industrieelvervaardigde wors. Sommige vorme van wors, soos gesnyde worsies, word berei sonder 'n omhulsel. Daarbenewens, is peuselvleis en worsvleis nou beskikbaar sonder derms in blikkies en bottels.
Wors bestaan uit vleis en vet, gemaal en in 'n omhulsel gevul, met ander bestanddele. Hierdie bestanddele kan goedkoop styseltoevoegings insluit soos broodkrummels, speserye en ander geurmiddels. Die vleis kan van enige dier wees, maar is dikwels vark, bees, of kalfsvleis. Die maer vleis-tot-vet verhouding is afhanklik van die styl en die produsent. Spesialiteitswors met ander bestanddele soos appel en prei word ook gemaak.[1] Indien die vleisinhoud as meer as 100% aangedui word, gebeur dit wanneer die massa van die vleis wat gebruik word groter is as die totale massa van die wors nadat dit gemaak is, soms insluitend 'n droogproses wat die waterinhoud verminder.
In sommige jurisdiksies moet voedsel beskryf as "wors" aan streng regulasies betreffende hul inhoud voldoen. In die Verenigde State byvoorbeeld, bepaal die Departement van Landbou dat die vetinhoud van die verskillende gedefinieerde tipes wors nie meer as 30%, 35% of 50% van die gewig mag wees nie.[2][3]
Baie tradisionele style van wors uit Asië en Europa gebruik geen brood-gebaseerde toevoegings nie, en sluit net vleis (maer vleis en vet) en geurmiddels in.[4] In die Verenigde Koninkryk en ander lande met Engels kooktradisies, bevat die wors 'n beduidende persentasie brood en styselgebaseerde vullers, wat kan bestaan uit 30% van die bestanddele. Die vuller word in baie worsies gebruik om te help om hul vorm te behou as hulle gaar is. Soos die vleis wegkrimp van die hitte tydens die gaarmaakproses, sit die vuller uit en absorbeer die vog en vet van die vleis.[5]
Wanneer die voedselverwerkingsbedryf worsies vir 'n lae prysvlak produseer, kan byna enige deel van die dier in die worsies eindig, wat wissel van goedkoop, vetterige monsters gestop met vleis afgestroop van die karkasse (meganies verhaalde vleis) en beskuit. Aan die ander kant, bevat die beste gehalte wors slegs uitgekose snitte van vleis en kwaliteit geurmiddels.
Sien wors in Wiktionary, die vrye woordeboek. |