Wyn is 'n alkoholiese drankie, gemaak deur die fermentasie van druiwesap.[1] Die natuurlike chemiese balans van druiwe is sodanig dat dit kan gis sonder dat suikers, suur, ensieme of ander voedingstowwe bygevoeg hoef te word.[2] Wyn word gemaak deur geperste druiwe te laat gis, deur middel van verskillende soorte gis. Dié verorber die suikers in die druiwe en skakel dit oor na alkohol. Verskillende variëteite van druiwe en tipes gis word gebruik, afhangende van die soort wyn wat gemaak word.[3]
Alhoewel ander vrugte soos appels en bessies ook gegis kan word, word die wyn wat dit produseer gewoonlik vernoem na die vrug waarvan dit gemaak is, (byvoorbeeld appelwyn of vlierbessiewyn) en staan dit generies bekend as vrugtewyn. Ander soorte, soos garswyn en ryswyn (soos byvoorbeeld sake), word gemaak van stysel en proe meer soos bier en sterk drank as wyn, terwyl gemmerwyn versterk word met brandewyn. In hierdie gevalle verwys die woord wyn eerder na die hoër alkoholinhoud as na die vervaardigingsproses.[4]
Wyn is baie geskiedkundig: dit dateer terug na ongeveer 6 000 voor Christus en het waarskynlik sy oorsprong gehad in die landgebiede wat tans binne die grense van Georgië en Iran is.[5][6] Wyn het na alle waarskynlikheid teen ongeveer 4 500 voor Christus sy verskyning in Europa gemaak, in die hedendaagse Bulgarye en Griekeland is. Dit was algemeen verkrygbaar in Ou Griekeland, Thrakië en Rome. Wyn het ook 'n belangrike rol gespeel in godsdiens dwarsdeur die geskiedenis. Die Ou Griekse god Dionusos en die Romeinse god Bakgos het wyn verteenwoordig, en die drank word ook gebruik in Christelike en Joodse seremonies soos die Nagmaal en "Kiddush" (Hebreeus: קידוש, letterlik, "heiligmaking", 'n seënwens wat oor wyn of druiwe uitgespreek word om die Sabbat of 'n Joodse heilige dag te heilig).
Die woord "wyn" ontspring van die Proto-Germaanse wortel *winam, 'n vroeë bruikleen vanaf die Latyn vinum, ("wyn" of "druiwestok"), wat op sy beurt weer kom vanaf die Proto-Indo-Europese stam *win-o-.[7][8] Soortgelyke woorde vir wyn of druiwe word ook gevind in die Semitiese tale (sien byvoorbeeld die Arabiese woord ﻭﻳﻦ wayn) en die Georgiese woord ğvino.[9]
Argeologiese getuienis suggereer dat die vroegste wynproduksie vanaf areas in Georgië en Iran plaasgevind het, van so lank gelede as 6 000 v.C..[5][10]
Die oudste beskikbare getuienis van wyngeskiedenis in Europa dateer na 4 500 v.C. en kom voor in argeologiese opgrawings in Griekeland.[11][12][13] Dieselfde opgrawings bevat ook die wêreld se vroegste getuienis van die pars van wyn.[11] In Ou Egipte het wyn deel geword van die opgetekende geskiedenis en het daar 'n belangrike rol gespeel in hul seremonies. Spore van wyn wat dateer vanaf die tweede en eerste millenniums v.C., is ook in China gevind.[14]
In die Middeleeue het die Rooms-Katolieke Kerk die gebruik van wyn sterk ondersteun, aangesien dit nodig was om die mis te vier. In plekke soos Duitsland was biergebruik verban en is dit gesien as goddeloos en barbaars, terwyl die drink van wyn weer beskou was as opgevoed en 'n blyke van die bekering na Christenskap.[15]
In die Islamitiese wêreld (tydens die Goue Era van Islam) was wyn verbode. Nadat Geber en ander Moslem-alchemiste egter baanbrekerswerk op die gebied van die distillasie van wyn gedoen het, is dit wetlik gemaak in die gebruik van die kosmetiek en medisyne.[16] Die tiende-eeuse Persiese filosoof en wetenskaplike El-Biruni beskryf resepte waarin kruie, minerale en selfs edelgesteentes met wyn vermeng is vir medisinale redes. Wyn het so aanbiddingswaardig geword en die effek daarvan so gevrees dat uitvoerige teorieë ontwikkel is omtrent watter edelgesteentes die negatiewe newe-effekte daarvan die beste kon teenstaan.[17]
Wyn word in natuurlike wyn, gefortifiseerde wyn en gedistilleerde wyn verdeel. Natuurlike wyn kan rooi, wit of rosé wees en word na gelang van die aanwesigheid van koolsuurgas stilwyn, vonkelwyn of perléwyn (halfvonkelwyn) genoem. Gefortifiseerde wyne sluit sjerrie, port, dessertwyne en vermoet ('n kruiewyn) in, terwyl gedistilleerde wyne in brandewyn en wynspiritus (vir die maak van likeurs) verdeel word. Die vernaamste onderskeid tussen natuurlike wyn en gefortifiseerde en gedistilleerde wyn is die alkoholinhoud.
Die alkoholinhoud is volgens wet vasgestel: vir natuurlike wyn hoogstens 13 %, vir gefortifiseerde wyn hoogstens 20% en vir gedistilleerde wyn hoogstens 43 %. Wyn wat geen suiker bevat nie, word droë (sec) wyn genoem, maar indien dit 'n klein hoeveelheid suiker bevat, word dit halfsoet (semi-soet, effe-soet) genoem. Fortifikasie is die proses waardeur suiwer wynspiritus of brandewynspiritus by 'n natuurlike wyn gevoeg word om sodoende die alkoholinhoud te verhoog en die wyn langer behoue te laat bly.
Wynbereiding bestaan hoofsaaklik uit die gisting van vars druiwesap, wat verkry word deur die druiwe wat geoes is, onverwyld te pars, meestal met 'n hidrouliese pers. Die reingis (spesiaal gekweekte gisselle) wat bygevoeg word, sit die suiker in alkohol en koolsuurgas om; indien die suikerinhoud hoog genoeg is, sal die gisselle 'n alkoholinhoud van 15% per volume veroorsaak, waarna hulle sal vrek. Die gistingsproses geskied by temperature van tussen 12 en 15 °C vir witwyn en tussen 15 en 20 °C vir rooiwyn, maar as die mos te warm word, kan dit in asyn verander.
Die gisting duur tussen 10 en 14 dae en geskied in oop en geslote tenks vir onderskeidelik rooi- en witwyn. Wanneer die gisselle sterf, sak dit as droesem na die bodem van die tenks. 'n Tweede gisting word soms teweeggebring deur die toevoeging van suiker en nog gisselle, byvoorbeeld by die maak van vonkelwyn. Indien 'n bepaalde suikerinhoud in die wyn verlang word, soos by halfsoet tafelwyn, kan die gisting kunsmatig stopgesit word deur verkoelings-, pasteurisasie- of filtrasieprosesse.
Nadat die jong wyn gefiltreer is (1 of meer male, na gelang van die verlangde gehalte), word die helder vloeistof in groot vlekvrystaaltenks (witwyn) of houtvate (rooiwyn) verouder, meestal vir 6 maande tot 2 jaar. Sommige rooiwyne word teenswoordig egter ook in staaltenks verouder. Na die verouderingsperiode word die wyn soms versny (met ander wyne vermeng) en dan gebottel.
Witwyn kan van sowel wit as swart druiwe gemaak word. Nadat die druiwe gepars is, word die doppe en ander vaste deeltjies regstreeks van die druiwesap geskei, aangesien die doppe selfs in die geval van wit druiwe die kleur van die wyn kan beïnvloed en 'n vrank tanniensmaak daaraan kan verleen. Uit die parskuipe word die druiwesap na die geslote gistenks gepomp, waar die reingis bygevoeg word en die vloeistof in verkoelde toestande kan gis.
'n Gesogte witwyn met ʼn uitstekende boeket en 'n baie hoe suikergehalte, wat meer die karakter van 'n likeurwyn as 'n halfsoet tafelwyn het, word gemaak van druiwe waarop die skimmel edelvrot (Botrytis cinerea) voorkom. Die druiwe word gepluk wanneer dit al feitlik rosyntjies geword het en slegs 'n minimale hoeveelheid druiwesap kan derhalwe gepars word. Weens die besondere inwerking van die skimmel op die druif het die boer geen waarborg van 'n geslaagde oes nie en dit maak die wyne so seldsaam.
Anders as witwyn word rooiwyn uitsluitend van swart druiwe gemaak. Suid-Afrikaanse rooiwyne word in ligte en vol rooiwyne ingedeel. Afgesien van die kleur wat uit die doppe verkry word, verskaf laasgenoemde ook meer en kenmerkende aroma en boeket aan die wyn.
Tydens die oop gisting word die doppe gereeld onder die oppervlak gedruk om kontak met die mos te bevorder. Gistenks wat met die doel een maal per dag geroteer word, word teenswoordig algemeen gebruik. In die kouer Europese lande is dit soms nodig om die gistingsproses met behulp van suiker en hitte aan te moedig. Die druiwe vir die ligte rooiwyne is meestal van die koeler kusstreke afkomstig en die vir die vol rooiwyne van die warmer streke in die binneland.
Roséwyn word van swart druiwe gemaak, maar die druiwesap word slegs vir tussen 6 en 24 uur saam met die doppe gegis, sodat die wyn 'n ligrooi (pienkerige) kleur kry maar nie die tannienagtige eienskappe van rooiwyn nie. Die alkoholinhoud van roséwyne is gelykstaande met die van ligte witwyne.
Vonkelwyn verskil van stilwyn daarin dat die koolsuurgas wat aanwesig is, in klein borreltjies vrygelaat word wanneer die bottel oopgemaak word. Dit word deur middel van 'n tweede gistingsproses in groot tenks of in bottels (die sogenaamde methode champegnoise) berei. Laasgenoemde metode is na die beroemde Franse produk sjampanje vernoem en is deur die Franse Benediktynse monnik Dom Pierre Pérignon (1638 - 1715) ontdek.
Die benaming sjampanje mag egter net gebruik word vir vonkelwyn wat uit Frankryk afkomstig is. Vonkelwyn kan van wit-, rooi- of roséwyne gemaak word. By die bereiding van perléwyne word koolsuurgas bloot by 'n halfsoet stilwyn gevoeg. Die verskil tussen hierdie wyne en die wat volgens die tweede gistingsproses in bottels of tenks gemaak word, is merkbaar aan die perléwyne se groter koolsuurgasborrels, wat ook vinniger verdwyn nadat die bottel oopgemaak is.
Suid-Afrikaanse port word gemaak van onder meer Cinsaut- en Tinta Barocca-druiwe, wat gepluk word wanneer hulle volryp is. Tydens gisting word die doppe gereeld ondertoe gedruk, sodat dit soveel moontlik kleur en karakter aan die port kan verleen.
Voordat al die druiwesuiker in die mos uitgegis is, word die wyn met 'n brandewynspiritus gefortifiseer en vir tussen 5 en 10 jaar in eikehoutvate verouder. Daarna word dit versny en in groot houers geberg. Taankleurige port word vir minstens 8 jaar in pypvate van ongeveer 1 000 liter verouder en robynport word vir sowat 5 jaar in stukvate van 12 000 liter verouder. Wit port word ook gemaak en is effens soeter as rooi port.
Sjerrie ontleen sy besondere, neutagtige smaak aan die aanwesigheid van die spesiale gissel flor. Voordat florin 1930 aan die Kaap gekweek is, is daar gemeen dat dit alleenlik in Spanje, tuisland van die sjerries, voorkom, maar die wyne is sedertdien op groot skaal plaaslik geproduseer en die Suid-Afrikaanse produk kry steeds internasionale erkenning vir sy hoë gehalte. Nadat die druiwe gepars is, word florgis by die druiwesap gevoeg.
Wanneer die gistingsproses voltooi is, word die mos tot 15% per volume gefortifiseer - min genoeg alkohol om die gis nie te vernietig nie, maar terselfdertyd die wyn goed behoue te laat bly. By die maak van bleek sjerries word die gefortifiseerde wyn daarna volgens die criadera-stelsel in poreuse houtvate geplaas, waar dit ongeveer 2 jaar lank bly. Die lug dring die vate deur die lospassende tappe binne en veroorsaak dat ʼn dun florskimmel-lagie op die oppervlak van die sjerrie vorm.
Dit sak mettertyd as 'n bruin droesem na die bodem, waarna die sjerrie na ʼn reeks opgestapelde verouderingsvate, die solera-stelsel, oorgetap word. Die sjerrie word eers vir 1 of 2 jaar in die boonste van die 3 rye houtvate verouder. Daarna word ʼn gedeelte (nooit meer as die helfte van die vat se inhoud nie) na die middelste ry vate afgetap en met ʼn ouer sjerrie vermeng en na 'n bepaalde tyd word die sjerrie weer op dieselfde wyse na die onderste ry vate oorgetap. Daar vind dus voortdurend 'n vermenging van sjerries van verskillende ouderdomme plaas.
Die Suid-Afrikaanse klimaat is baie geskik vir die maak van die geurige muskadelwyne, wat hul oorsprong in Italië en Spanje het (die beroemde Constantiawyne van die vorige eeu is van onder meer die muskaatdruif Muscat d'Alexandrie (Hanepoot) gemaak). Die wyne, wat ongeveer 4 jaar lank in hout verouder word, word op 'n soortgelyke wyse as port berei. Vermoet word as 'n kruiewyn beskryf vanweë die groot aantal byvoegings van plante en kruie wat aan die drank sy aromatiese eienskappe gee. Dit kom in 2 tipes voor, naamlik droë en soet vermoet, en kan rooi of wit wees.
Brandewyn is 'n gedistilleerde wyn wat gemaak word van eerstegraadse mos afkomstig van veral Chenin Blanc- of Colombar-druiwe. In die stookkelders word net die beste distilleerwyn vir die brandewynverstoking gebruik; wyn van 'n laer graad word aangewend vir die distillasie van wynspiritus waarmee wyne gefortifiseer word, brandewyn mee versny word en likeurs en parfuum gemaak word. Die brandewyn word in koperketels verstook en die alkohol wat verdamp, word in koelpype bokant die ketels opgevang en gekondenseer.
Die kondensaat word vir 'n tweede keer verstook en nadat hierdie verdamping gekondenseer het, is dit suiwer genoeg vir die maak van brandewyn. Die vloeistof bevat 70 % alkohol per volume, maar word met gedistilleerde water tot ongeveer 43 % per volume verdun. Daarna word dit in houtvate verouder, want die produk wat op die mark geplaas word, moet by wet vir minstens 30 % bestaan uit brandewyn wat vir 3 jaar lank verouder is. Minstens die helfte van Suid-Afrika se wynproduksie word tot stookwyn verwerk.
Slegs 'n halfeeu gelede nog het Suid-Afrikaners voorkeur gegee aan brandewyn en muskadelwyne en was daar nog feitlik geen mark vir natuurlike wyne nie. Die afgelope 2 dekades het die drinkpatroon egter verander en het natuurlike wyne 'n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van ʼn eie Suid-Afrikaanse wynkultuur gelewer.
In navolging van die Europese tradisie word Suid-Afrikaanse natuurlike wyne sedert 1973 volgens oorsprong, kultivar, oesjaar en landgoed op die etikette van die wynbottels geïdentifiseer en word erkenning ook aan gehalte verleen. Die oorsprong, kultivar en oesjaar word deur onderskeidelik 'n blou, 'n groen en 'n rooi band om die nek van die bottel aangedui. Indien die oorsprong vermeld word, waarborg dit dat die wyn geheel en al uit 'n bepaalde wyndistrik afkomstig is.
Die kultivar-aanduiding waarborg dat minstens 75 % van die wyn gemaak is van die druifvariëteit wat op die bottel vermeld word, en indien die oesjaar vermeld word, beteken dit dat 75 % van die wyn van 'n bepaalde oes se druiwe gemaak is. 'n Landgoed-merk dui aan dat die druiwe afkomstig is van en die wyn geproduseer is op die landgoed. Indien die gehalte van die wyn voortreflik is, verwerf die wyn die kwalifikasie Superieur, en dit word op die etiket vermeld.
Frankryk is tradisioneel die wêreld se belangrikste wynbouland en het hoofsaaklik 2 wynbougebiede, naamlik Bordeaux, waar ligte wyne gemaak word, en Boergondië, waar wyne met 'n voller karakter geproduseer word. Bekende Bordeaux-wyne is Médoc Graves, Saint-Emilion, Pomerol en Sauternes. Van Boergondië, waarvan die vernaamste streek, Haute Bourgogne, in die Côte de Nu en die Côte de Beaune verdeel word, se bekendste wyne is Romanée-Conti, La Tâche, Pommard, Volnay en Aligoté. Sommige wyne uit die Bordeaux-gebied verouder tot 12 jaar voordat dit op die mark geplaas word, byvoorbeeld die Medoc.
'n Besondere eienskap van wyne uit die gebied is dat hulle tradisioneel die naam van 'n kasteel (chateau) dra. Behalwe in die geval van beroemde wyne soos die Chateau Mouton-Rothschild en die Chateau Lafitte, dra die benamings nie juis gewig nie aangesien die wynprodusente na willekeur name kan skep. Sedert 1855 word die Bordeaux-wyne volgens gehalte graderings ingedeel deur die gradering cru: tussen 1 en 5 cru kan vir rooiwyne toegeken word, en 1 of 2 vir witwyne.
Die jongste wynstreek van Frankryk, Beaujolais, is in Boergondië geleë. Sjampanje word in byna die hele Marne-gebied deur onder andere Moët-Hennessy (wat die beroemde Moët & Chandon vervaardig). Ruinart, Mercier, Veuve Clicquot en Pominery & Greno gemaak. Ander vername wynboudistrikte is die langs die Rhône-rivier en die Loire-rivier (rosé d'Anjou), asook in die Elsas, Jura, Provence en Languedoc (byvoorbeeld die Corbières-wyn).
Byna die hele Duitse wynbou is in die suidwestelike deel van die land langs die riviere gekonsentreer. Die beste wyne, onder meer Schloss Johannisberg en Hochheim, is uit die Ryngebied se Rheingau (Ryn-streek) afkomstig. Die Ryngebied word verder verdeel in Mittelrhein en Rheingessen - laasgenoemde produseer die wêreld se gewildste wyn, naamlik Liebfraumilch. Ligte wyn van die Rieslingdruif word langs die Mosel gemaak en is soortgelyk aan die wyne langs die Saarrivier. Die grootste bydrae tot die land se wynproduksie kom uit die Rheinpfalz, waar oor die algemeen redelik swaar wyne gemaak word. Wyne uit die Franken- en die Nahe-gebied is ook swaar - eersgenoemde wyne is veral bekend vir die plat bottel, die Bocksbeutel, waarin hulle bemark word.
Spanje is die tuiste van sjerrie, wat uit die stad Jerez de la Frontera in die provinsie Andalusie afkomstig is. Spaanse sjerrie word in verskeie tipes ingedeel, naamlik fino (droog, met 'n vae haselsmaak), amontillado (amberkleurig en droog met 'n vol smaak), manzanilla (strooikleurig, lig en droog), oloroso (goudkleurig en soet) en amoroso. Langs die ooskus van Spanje word baie muskaatwyn, malvasia en ander soetwyn geproduseer, asook die baie soet Malaga; laasgenoemde word gemaak van druiwe wat in die son gedroog is. Die Rioja uit Noord-Spanje is 'n bekende Spaanse tafelwyn wat baie met die Franse Bordeaux-wyne ooreenstem.
Die vernaamste Portugese wyn is port (porto), waarvan Barros, Fonseca en Kopke van die belangrikste produsente is. Portugese portwyne word uit versnitte van verskeie oesjare gemaak en 'n wynoesport, wat uit een goeie oes gemaak word, is besonder skaars. ʼn Bekende Portugese witwyn is die vinho verde, en die land is ook bekend om sy soet, gefortifiseerde Madeirawyne (afkomstig van dieeiland Madeira). Laasgenoemde word gemaak deur die mos in glashouers in die son te gis.
Die grootste wynprodusent in terme van volume in Europa is Italië met sy groot verskeidenheid ligte wit- en rooiwyne, soos die gewone chianti en die classico, vonkelwyne soos die asti spumante, en likeur- en kruiewyne soos vermoet ('n aftreksel van kruie, kaneel, salie, tiemie en als, asook suiker). Luxemburg produseer ʼn droë, wit moeselwyn, waarvan die bekendste die Riesling Sylvaner is, terwyl Griekeland benewens die retsina ook samos (vernoem na die eiland Samos), 'n soet muskaatwyn, maak. Hongarye is bekend om sy tokajer, 'n vol, droë wyn, en die Oostenrykse wyngebied Wachau (wes van Wenen) lewer ook baie, droë witwyn.
Benewens Suid-Afrika word wyn ook in Kalifornië en die ooste van die VSA, Suid-Amerika, Australië en Japan geproduseer. Die lande in Suid-Amerika lewer saam 'n tiende van die wëreldproduksie; Argentinië is daar die grootste produsent. In Noord-Afrika produseer Algerië in die Oran- en die Algiers-gebied wyne met 'n besondere vrugtesmaak. Die Suid-Afrikaanse sowel as die Kaliforniese wynbedryf is op die Europese lees geskoei en in albei gevalle het die name van wyne meestal 'n Europese herkoms.
Wyn word gewoonlik gemaak van een of meer variëteite van die Europese spesie Vitis vinifera, soos Pinot Noir, Chardonnay, of Merlot. As een van hierdie variëteite gebruik word as die oorheersende druif (gewoonlik wetlik bepaal as 'n minimum van 75% of 85%), is die resultaat bekend as 'n variëteitswyn, in teenstelling met 'n versnede wyn. Versnede wyne word nie as minderwaardig tot die variëteitswyne beskou nie; inderwaarheid is sommige van die wêreld se mees gesogte en duurste wyne vanaf streke soos Bordeaux en die Rhône-vallei, versnede wyne van verskillende druifvariëteite in dieselfde wynjaar.
Wyn kan ook gemaak word van ander spesies druiwe of druifkruisings, wat geskep word deur die genetiese vermenging van twee druifspesies. Vitis labrusca (waarvan die Concord-druif 'n kultivar is), Vitis aestivalis, Vitis rupestris, Vitis rotundifolia en Vitis riparia is inheemse Noord-Amerikaanse druiwe wat meesal verbou word vir die verbruik van vrugte, of die produksie van druifkonfyt, -sap of -jellie, maar soms vir wynmaak gebruik word.
Kruising moet nie verwar word met die praktyk van enting nie. Die meeste van die wêreld se wingerde is beplant met die V. vinifera-wynstokke wat geënt is op spesies van Noord-Amerikaanse wortelstok. Dit is 'n algemene praktyk omdat die Noord-Amerikaanse druiwespesies weerstand bied teen druifluise (ook genoem filloksera), 'n luis wat uiteindelik die wynstok vernietig. In die laat 19de eeu is Europa se wingerde deur hierdie gogga vernietig, wat gelei het tot massiewe wynstoksterftes en uiteindelik herplanting. Enting word in elke wynproduserende land gedoen, behalwe in die Kanarie-eilande, Chili en Argentinië, die enigste lande wat tot nou toe nog nie aan die insek blootgestel is nie.[18]
Binne die konteks van wynproduksie is terroir 'n konsep wat die variëteite van die druiwe, die hoogte bo seespieël en vorm van die wingerd, die tipe en chemiese samestelling van die grond, die klimaat en seisoenstoestande en die plaaslike giskulture omvat. Die reikwydte van moontlikhede in terroir kan tot 'n groot verskil tussen wyne lei en dit beïnvloed ook die gisting, afwerking en verouderingsprosesse.
Baie wynkelders gebruik groei- en produksiemetodes wat die aroma en smaakinvloed van hul unieke terroir behou of verskerp.[19] Aan die ander kant wil die produsente van massaproduksie-tafelwyn of ander goedkoper wyne nie smaakverskille hê nie; hulle poog eerder om dieselfde konsistensie te verkry. Diesulke produsente poog om verskille in druifoorsprong te minimaliseer deur die gebruik van produksietegnieke soos mikro-oksigenering, tannienfiltrering, kruisvloeifiltrering, dunlaagverdamping en kegeltolling.[20]
Regulasies beheer die klassifikasie en verkope van wyn in talle gebiede van die wêreld. Europese wyne neig om volgens streek geklassifiseer te word (soos byvoorbeeld Bordeaux en Chianti), terwyl nie-Europese wyne meestal geklassifiseer word deur die tipe druif (byvoorbeeld Pinot Noir en Merlot). Desnieteenstaande veroorsaak markerkenning van spesifieke gebiede dat gebiedserkenning al hoe meer opgemerk word op nie-Europese wynetikette. Voorbeelde van erkende areas sluit in: die Napa-vallei in Kalifornië, die Barossa-vallei in Australië, die Willamette-vallei in Oregon in die VSA, Marlborough in Nieu-Seeland en Douro in Portugal.
Sommige versnede wynname is handelsmerke en die gebruik daarvan word beperk deur handelsmerkwetgewing eerder as deur spesifieke wynwette. 'n Voorbeeld hiervan is die Meritage-wyn, gewoonlik 'n Bordeaux-styl versnit van Cabernet Sauvignon en Merlot. Dit mag ook versnitte van Cabernet Franc, Petit Verdot en Malbec bevat. Kommersiële gebruik van die uitdrukking "Meritage" word slegs toegelaat deur middel van lisensie-ooreenkomste met 'n organisasie met die naam van die "Meritage Association".
Frankryk het 'n benoemingsisteem wat baseer word op die terroir-konsep, met klassifikasies wat wissel vanaf Vin de Table (tafelwyn) op die laagste vlak, na Vin de Pays en Vin Délimité de Qualité Supérieure en die hoogste Appellation d'Origine Contrôlée.[21][22] Portugal het 'n soortgelyke sisteem en was die baanbreker op hierdie tegniek deurdat 'n koninklike privilegie in 1756 die Afgebakende Douro-gebied geskep het en wynproduksie en -handel gereguleer het.[23] Duitsland het 'n soortgelyke pad gevolg in 2002, alhoewel hul sisteem nog nie die outoriteit verkry het van dié in ander lande nie.[24][25] Spanje en Italië het 'n dubbele klassifikasiesisteem gebaseer op die oorsprongsgebied en produkkwaliteit.[26][27]
Meeste van die wynsoorte buitekant die tradisionele wyngroeiersgebiede van Europa word gewoonlik geklassifiseer deur die druifsoort eerder as deur terroir of gebied van oorsprong, alhoewel daar nie-amptelike pogings is om hulle volgens kwaliteit te klassifiseer.[28][29]
'n "Oesjaarwyn" is een wat gemaak is van druiwe wat alles of meestal geoes is in 'n sekere spesifieke jaar en as sulks 'n etiket dra wat dit vertoon. Die meeste lande laat wel toe dat 'n oesjaarwyn 'n gedeelte mag bevat wat nie vanaf die geëtiketteerde oesjaar af kom nie. In die VSA moet 'n oesjaarwyn ten minste 95% van sy volume verkry vanaf druiwe wat in daardie jaar geoes is, om te mag dateer en etiketteer word met 'n land van oorsprong of Amerikaanse Wynbouarea (AWE) (soos die Sonoma-vallei).[30] Indien die land van oorsprong of AWE nie op die etiket verskyn nie, is die persentasie wat vereis word slegs 85%.[30]
Verskille in 'n wyn se karakter van jaar tot jaar kan subtiele verskille oplewer in kleur, smaak, "neus", liggaam en ontwikkeling. Veral goeie kwaliteit rooi tafelwyne kan met ouderdom verbeter in smaak, mits dit korrek geberg word.[31] Gevolglik is dit nie ongewoon vir wynentoesiaste en -handelaars om bottels van 'n besonder goeie oesjaar te hou vir toekomstige gebruik nie.
Oesjaarwyne word gewoonlik in 'n enkele bottelslag gebottel sodat elke bottel 'n soortgelyke smaak sal hê. Die verskillende weersomstandighede in verskillende oesjare kan 'n groot rol speel in die karakter van die wyn, met die gevolg dat verskillende oesjare van dieselfde wingerd af dramaties van mekaar kan verskil in geur en kwaliteit.[32] Daarom word oesjaarwyn vervaardig om individueel karakteristiek van die oesjaar te wees, asook om spogprodukte van die vervaardiger te wees. Meerderwaardige oesjaarwyne vanaf agtenswaardige produsente en streke sal dikwels baie hoër verkoopspryse beding as hulle gewone eweknieë.
Sommige oesjaarwyne, soos die Brunello's word slegs gemaak in beter-as-gemiddelde jare.
Nie-oesjaarwyn kan versnee word met meer as een oesjaar ter wille van konsistensie, 'n proses wat wynmakers toelaat om 'n betroubare bemarkingsbeeld te behou en verkope selfs in swakker jare te handhaaf.[33][34]
'n Onlangse studie het bevind dat die oesjaar vir gewone wynverbruikers nie so betekenisvol is ten opsigte van hul persepsie van wynkwaliteit, as wat huidig geglo word nie, maar dat wynproewers dit steeds van groot belang ag.[35]
Wynproe is die sintuiglike ondersoek en beoordeling van wyn. Wyne kan geklassifiseer word in verband met die wyn se effek op die wynproewer se smaak. Wyne bestaan uit chemiese samestellings wat soortgelyk of identies aan dié in vrugte, groente en speserye is. Die soetheid van die wyn word bepaal deur die agtergeblewe hoeveelheid suiker nadat gisting voltooi het, in verhouding met die suurheid teenwoordig in die wyn. Droë wyn het byvoorbeeld slegs 'n klein hoeveelheid agtergeblewe suiker. Onervare wyndrinkers is dikwels geneig om die smaak van ryp vrugte te verwar met die soetheid, terwyl dié wyn baie droog is.
Individuele smake kan ook geproe word, omdat druiwesap en wyn 'n gekompliseerde mengsel van organiese molekules soos esters en terpene kan bevat. Fynproewers kan dikwels 'n onderskeid maak tussen geure wat kenmerkend is van 'n spesifieke wyn (soos byvoorbeeld Chianti en suurkersie) en geure wat die resultaat is van ander faktore in die wynmaakproses, of dié geure beplan is of nie.
Die mees tipiese beplande geurelement in wyn is dié wat verkry word deur middel van die veroudering van die wyn in eikevate; sjokolade-, vanielje- of koffiegeure is feitlik altyd die gevolg van die eikblootstelling en nie van die druif self nie.[36] Piesanggeure (isoamielasetaat) is die produk van die gismetabolisme, net soos bederwingsgeure soos sweet-, plaaswerf-, pleister- (4-etielfenol en 4-etielguaiako]),[37] en vroteierreuke (swaelwaterstof).[38] Sommige variëteite mag ook 'n metaalgeur hê, omdat sekere soute wateroplosbaar is (soos kalksteen) en deur die wyn absorbeer word.
Wynaroma ontspring van vlugtige samestellings in die wyn wat in die lug vrygestel word.[39] Verdamping van hierdie samestellings word bespoedig deur klein sirkelvormige bewegings met die wynglas te maak of deur die wyn teen kamertemperatuur te bedien. Baie wyndrinkers verkies dit selfs om rooiwyne wat reeds hoogs aromaties is, soos Chinon en Beaujolais, verkoel te bedien.[40]
Sommige skaars wyne van die hoogste gehalte is só duur dat dit die duurste van alle voedselitems is en uitstekende oesjare van die beste wynkelders kan teen duisende Amerikaanse dollar per bottel verkoop word. Sulke wyne word deur sommige beskou as Veblen-goedere— dit wil sê, goedere waarvan die aanvraag toeneem in plaas van afneem soos wat die prys daarvan styg. Onder die mees algemene wyne wat ter wille van beleggingswaarde aangekoop word, is dié vanaf Bordeaux, kultwyne vanaf Kalifornië en verouderde portwyn. Hoogs versamelbare wyn het onder meer die volgende kenmerke:
Beleggings in goeie wyn lok bedrieërs aan wat staatmaak op hul prooi se gebrek aan kennis aangaande hierdie sektor van die wynmark.[41] Hierdie skelms vra gewoonlik geweldige hoë pryse vir wyne uit beroemde wynstreke wat nie 'n goeie oesjaar gehad het nie, of wat 'n laer status in daardie streek het, maar beweer dat hulle 'n gesonde beleggingsgeleentheid bied, onafhanklik van die op-en-af van ekonomiese siklusse. Goeie navorsing is dus, soos met enige ander belegging, noodsaaklik voordat 'n persoon in wynversameling belê. Vervalste etikette en bottels is nog 'n skelmstreek wat dikwels teëgekom by veilings van beroemde wyne soos die 1982 Château Pétrus.
Rangorde | Land | Produksie (in ton) |
---|---|---|
1 | Frankryk | 5,349,333 |
2 | Italië | 4,711,665 |
3 | Spanje | 3,643,666 |
4 | VSA | 2,232,000 |
5 | Argentinië | 1,539,600 |
6 | Turkye | 1,520,483 |
7 | China | 1,400,000 |
8 | Suid-Afrika | 1,012,980 |
9 | Chili | 977,087 |
10 | Duitsland | 891,600 |
Wyndruiwe groei feitlik uitsluitlik tussen die dertigste en vyftigste breedtegraad noord of suid van die ewenaar. Die heel suidelikste geleë wingerde is in die Sentraal-Otagogebied van Nieu-Seeland se Suid-eiland naby die 45ste breedtegraad,[44] en die heel noordelikste is in Flen, Swede, net noord van die 59ste breedtegraad.[45]
|
|
Wyn is 'n gewilde en belangrike drankie wat 'n wye verskeidenheid Europese en Mediterreense kookkunste vergesel en verbeter, of dit nou die eenvoudige en tradisionele, of die mees gesofistikeerde en komplekse kos is. Die wyn dra by tot kos se genieting nie alleen as 'n drankie nie, maar dien ook as 'n smaakmiddel, veral in aftreksels en smore, aangesien sy suurheid 'n balans verleen aan sout- en soetgeregte.
Rooi-, wit- en vonkelwyn is die mees gewilde soorte wyn. Hulle staan ook bekend as ligte wyne omdat hulle slegs 10–14% alkoholinhoud per volume bevat. Aperitief- en dessertwyn bevat tussen 14–20% alkohol en word soms boonop versterk om hulle nog ryker en soeter te maak.
Sommige wynetikette stel voor dat die bottel eers 'n paar uur voor gebruik geopen moet word om die wyn te laat "asemhaal", terwyl ander weer dit aanbeveel dat dit onmiddellik gedrink moet word. Afgieting, die gebruik om wyn in 'n spesiale kraffie uit te skink net om dit te laat asemhaal, is 'n kontroversiële onderwerp in die wynbedryf.
Behalwe dat dit die wyn met lug vermeng, kan afgieting met 'n filter 'n mens in staat stel om bitter afsaksels wat in die wyn kon gevorm het, te verwyder. Afsaksels kom meer dikwels voor in ouer wynbottels, maar jonger wyne baat gewoonlik meer by belugting.[47] Gedurende belugting laat die blootstelling van die jong wyne aan die lug dikwels die geure "ontspan' en dit laat hulle gladder smaak, met beter integrasie van aroma, tekstuur en geur.
Ouer wyne, aan die ander kant, "verflou" gewoonlik, of verloor hul karakter- en geurintensiteit, as belugting te lank aanhou.[48] Ten spyte van al hierdie algemene reëls, is belugting nie noodwendig tot voordeel van alle wyne nie. 'n Wyn behoort geproe te word sodra dit oopgemaak word om vas te stel vir hoe lank dit belug moet word, of dat dit hoegenaamd nie eers gebeur nie.
Wyn word algemeen gebruik tydens godsdienstige seremonies in baie kulture en streke. Drankoffers het dikwels ook wyn ingesluit en die rites gebruik deur die aanhangers van Dionusos het wyn as 'n gewyde middel gesien om 'n begogelende toestand daar te stel.
Wyn is 'n integrale deel van die Joodse wette en tradisies. Die Kiddush is 'n seënwens wat oor wyn of druiwesap uitgespreek word om die Sabbat of 'n Joodse heilige dag te heilig. Op Pesach word daar volgens die rabbynse leer van die mense verwag om vier glase wyn te drink.[49] In die tabernakel en in die tempel in Jerusalem, was wyn gebruik as 'n gedeelte van die offerandediens.[50]
In Christendom word wyn of druiwesap gebruik in die sakrament van die Nagmaal. Dit het sy oorsprong in die Evangelievertellings van die laaste keer wat Christus brood en wyn gedeel het met sy dissipels en sy volgelinge opdrag gegee het om dit voortaan te doen in herinnering aan hom (Die Evangelie volgens Lukas 22:19).
Begrip oor die aard van die Nagmaal verskil onder verskillende Christendenominasies; die Rooms-Katolieke Kerk glo byvoorbeeld dat die brood en wyn verander in die werklike liggaam en bloed van Christus in 'n proses genaamd transubstansiasie. Wyn was gebruik in die Nagmaal deur alle Protestante groepe tot in 1869.
'n Metodiste-predikant Thomas Bramwell Welch (hy het later 'n tandarts geword) het die nuwe tegniek van pasteurisasie aangewend op druiwesap om die natuurlike gistingsproses daarvan te stop. Sommige Christene wat ook voorstanders van die geheelonthouersbeweging was, het daarop aangedring om van wyn na druiwesap oor te skakel, en die plaasvervanging daarvan het vinnig dwarsoor die Verenigde State gesprei. (Nietemin word die drankie steeds "wyn" genoem om in ooreenstemming te wees met die skriftuurlike verwysings.)[51]
Die gebruik van wyn is verbode onder die wette van Islam. Iran het 'n vooruitstrewende wynbedryf gehad, maar dié het verdwyn na die Islamitiese Rewolusie in 1979.[52]
Die gesondheidseffekte van wyn (en alkoholiese drank in die algemeen) is die onderwerp van heelwat voortgaande studies.[53]
In die Verenigde State het rooiwynverbruik in die hoogte opgeskiet in die 1990's nadat 'n televisieprogram 60 Minutes positief daaroor berig het, en met ander nuusverslaggewing oor die Franse paradoks. Die Franse paradokseffek verwys na die vergelykende laer insidensie van koronêre vaatsiekte in Frankryk, ten spyte van hoë inname van versadigde vette in die Franse dieet. Epidemioloë vermoed dat hierdie verskynsel voorkom weens die hoë verbruik van wyne in Frankryk, maar die wetenskaplike getuienis hiervoor is huidig beperk.
Bevolkingstudies neem 'n J-kurwe-assosiasie waar tussen wynverbruik en die risiko van die ontwikkeling van hartsiekte.[54] Dit beteken dat geheelonthouers en drinkers wat baie inneem beide 'n verhoogde risiko het, terwyl gematigde drinkers 'n laer risiko het. Navorsingstudies bevind ook dat matige gebruik van ander alkoholiese drank ook beskermend teenoor die hart mag wees, alhoewel die assosiasie heelwat sterker is vir wyn. Daarby bevind studies dat rooiwyn 'n hoër beskermende effek het, ook vir kankervoorkoming, as witwyn. Navorsers vermoed dat dit die geval mag wees omdat rooiwyn meer polikarbolsure het as witwyn.[55]
Resveratrol, 'n natuurlike polikarboolsuur wat in rooiwyn voorkom, skyn om beide hartbeskermings- as chemobeskermingseffekte te hê in dierestudies.[56] Volgens 'n studie wat in "PLoS One" publiseer is, het lae dosisse resveratrol in die dieet van middeljarige muise 'n wydverspreide invloed op die genetiese hefbome van ouderdom en mag dit spesiale beskerming vir die hart bied. Dit boots diëte na wat 20-30 persent minder kalorieë het as 'n tipiese dieet.[57] Reveratrol word in druiweskilletjies vervaardig in antwoord op fungusinfeksie (ook tydens die blootstelling aan gis tydens die gistingsproses). Witwyn het min kontak met die skilletjies tydens die vervaardigingsproses en het dus laer hoeveelhede resveratrol.[58]
Ander goedaardige chemiese samestellings in wyn sluit in ander polikarboolsure, anti-oksidante en flavonoïede.[59] Rooiwyne van die suide van Frankryk en van Sardinië in Italië het die hoogste vlakke van proantosianidien, 'n samestelling wat aangetref word in druiwepitte en wat ook vermoedelik verantwoordelik is vir die kardiologiese voordele van rooiwyn. Rooiwyne vanaf hierdie streke het tussen twee tot vier keer meer proantosianidiene as ander rooiwyne. Op sy beurt onderdruk dié chemiese stof die sintese van endotelien-1, 'n peptied wat bloedvate laat saamtrek.[60]
'n Studie wat in 2007 gedoen is bevind dat beide rooi- en witwyne effektiewe anti-bakteriële middels is teen sekere stamme streptokokki.[61] In die verlede is wyn in sekere wêrelddele ook gebruik om wonde te behandel.[62]
Alhoewel die getuienis van beide laboratoriumstudies en epidemiologiese waarnemingstudies 'n beskermingsaksie teen hartsiekte impliseer, bestaan daar tot op hede (2009) nog geen kontroleproefnames wat rapporteer op die effek van alkoholiese drank op die risiko van die ontwikkeling van hartsiekte of beroerte nie. Voorts kan oormatige inname siektetoestande soos lewersirrose en alkoholisme veroorsaak.[63] Daarom maan die Amerikaanse Hartassosiasie mense om nie te begin drink as hulle nie reeds tevore gedrink het nie, maar vra dat mense eerder hul geneesheer moet raadpleeg aangaande die voordele en nadele van matige alkoholverbruik.[64]
Sulfiete kom in alle soorte wyn voor en is 'n natuurlike produk van die gistingsproses. Daarbenewens voeg baie wynmakers swaeldioksied by hul wyne om dit teen bederwing te beskerm.[65] Alhoewel dit gewoonlik nie 'n probleem vir die meeste mense is nie, kan diegene met asma nadelige effekte daarteenoor ondervind.
Die effek van wyn op die brein is ook bestudeer. Sommige navorsers het bevind dat wyn gemaak van die "Cabernet Sauvignon"-druifsoort die kans op Alzheimer se siekte in muise verminder,[66] maar 'n mens moet nie uit die oog verloor dat ander navorsers bevind het dat wyn die hippokampus meer beskadig as ander alkoholiese drankies in die geval van mense wat ly aan alkoholafhanklikheid.[67]
Die meeste wyn word in glasbottels verkoop en word verseël met kurkproppe. 'n Groeiende aantal wynmakers begin om ander soorte verseëlings te gebruik soos afskroefproppe of plastiese "kurkproppe". Sommige wyn word verpak binne swaar plastieksakke binne kartondose en word "bokswyn" of vatwyn genoem. Die wyn in die plastieksak word uitgeskink deur middel van 'n kraantjie in die kant van die kartondoos. Een voordeel van die vatwyn is dat dit vars bly tot 'n maand nadat dit geopen is, terwyl gebottelde wyn onmiddellik na die oopmaak daarvan begin oksideer. Alhoewel die alternatiewe verseëlingsmetodes ook goedkoper is en die verskynsel van "kurkpropbesmetting" vermy, blameer sommige wynkenners dié metodes vir ander probleme soos oormatige reduksie van die wyn.
Wynkelders (ook genoem "wynkamers" indien die bergplek bogronds is) is plekke wat spesifiek ontwerp is vir die berging en veroudering van wyn. In 'n "aktiewe" wynkelder word faktore soos temperatuur en voggehalte instandgehou deur 'n klimaatskontrolesisteem. Aan die ander kant is daar geen sulke kontrole in "passiewe" wynkelders nie en is die ligging van sulke kelders baie belangrik.
Wyn is 'n natuurlike bederfbare kosproduk. Alle soorte wyn sal mettertyd bederf as dit blootgestel word aan hitte, lig, trillings of selfs skommelings van temperatuur en voggehalte. As wyn korrek geberg word, behou dit nie alleen die kwaliteit daarvan nie, maar kan soos dit verouder verbeter in geur, aroma en kwaliteit. Die meeste deskundiges voel dat 12.778 °C (55 °F) die beste bergingstemperatuur is.
{{cite journal}}
: Cite journal requires |journal=
(hulp); Check |doi=
value (hulp)
{{cite journal}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
{{cite journal}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link).
Wikimedia Commons bevat media in verband met Wyn. |