Yajna (Sanskrit: यज्ञ, "offerande", "verering", "aanbidding") verwys in Hindoeïsme na enige ritueel wat voor ’n heilige vuur uitgevoer word, dikwels gepaardgaande mat mantras.[1] Yajna was ’n Vediese tradisie wat in die Brahmana-geskrifte verduidelik word, sowel as in die Yajurveda.[2]
Geskrifte oor yajna-rituele is die Karma-kanda (rituele werke)-deel van die Vediese letterkunde genoem, in teenstelling met die Jnana-kanda (kennis)-deel in die Upanishads. Die regte voltooiing van yajna-rituele was die fokus van die Mimansaskool van Hindoefilosofie.[3] Yajna speel ’n belangrike rol in deurgangsrites, soos huwelike.[4] Moderne tempelseremonies, gemeenskapsvierings en kloosterinisiasies kan ook Vediese yajna-rites insluit.
Die woord "yajna" se wortel lê in die Sanskrit-woord yaj, wat beteken "om te aanbid, vereer", en verskyn in die vroeë Vediese geskrifte wat in die 2de millennium v.C. saamgestel is.[5][6]
Die Sanskrit-woord is verwant aan die Avestiese term yasna van Zoroastrisme. Dié verwys egter na ’n spesifieke godsdienstige diens, nie ’n soort ritueel nie, en het te doen met water eerder as vuur. Die Sanskrit-woord is ook verwant aan die antieke Griekse woord ἅζομαι (házomai), "om te eerbiedig", wat kom van die Proto-Indo-Europese wortel *Hyeh₂ǵ- ("om te aanbid").